Waar om Afrikaanse leesstof te kry
Dis nie altyd maklik om Afrikaanse leesstof in Nieu-Seeland te kry nie - ons het egter 'n paar wenke wat jy in gedagte kan hou. Blykbaar is Afrikaanse boeke in Suid-Afrika ook nie aldag so volop by sommige van die boekwinkels nie - dalk help hierdie inligting vir Suid-Afrikaners in Suid-Afrika ook. Glo my vry, ons lees Afrikaans al bly ons ver buite Suid-Afrika
Biblioteke
Christchurch se biblioteek, sowel as nog enkele biblioteke in New Zealand (soos die biblioteek in die North Shore) het Afrikaanse boeke en tydskrifte beskikbaar om uit te leen. As jou biblioteek Afrikaanse boeke het, ondersteun asseblief die diens en neem dit uit sodat die versameling benut kan word. As dit nie benut word nie sal hulle die versamelings moet sluit.
Vir ons in Christchurch is dit gratis om 'n biblioteeklid te wees maar as dit vir jou moeilik is om by Central Library uit te kom waar die versamelng gehou word, kan jy grootmensboeke teen 'n klein fooi bestel, en kinderboeke gratis laat stuur na jou naaste voorstelike biblioteek waar jy dit weer kan teruggee.
Christchurch biblioteek het Afrikaanse grootmens boeke (fiksie en nie-fiksie) in die Tale van die Wereld-afdeling op die eerste vloer van die Central Library. Die kinderboeke en klank storie en musiek CD's vir kinders is in die "Centre of the Child" kinderbiblioteek beskikbaar op die grondvloer by die vreemde tale-afdeling in die kinderversameling.
Die biblioteek aanvaar graag skenkings van nuwe boeke. As die boeke nuut genoeg is kan hulle dit rakgereed kry vir ons almal om uit te neem. Ouer boeke word vir 'n klein fooi ten bate van die biblioteek verkoop. Kontak my vir meer inligting.
Nuwe boeke
Eerstens dink ons die diens wat Kalahari.net bied, wonderlik is. As jy 'n groot genoeg bestelling insit, kan dit nogal die moeite werd raak. Daar sal iets vir elke lid van die hele gesin beskikbaaar wees omdat hulle 'n baie groot versameling boeke, klank CD's en DVD's het asook geskenke. Jy kan hulle vra om dit vir jou na die NZ adres te stuur en ja, die internasionale posgeld werk duur uit maar hulle bied soms wonderlike afslagte aan en as jy 'n groot genoeg bestelling insit kan dit werklik die moeite werd raak. Of deel die posgeld met 'n NZ vriend of vriendin as julle albei iets van Kalahari.net wou he.
Nog iets wat sommige mense doen is om hul bestelling direk by Kalahari.net in te sit voordat hulle kuiergaste van Suid-Afrika ontvang, en dit in orde is met die kuiergaste, die pakkie te laat adresseer na die bepaalde familielid se Suid-Afrikaanse adres.
As mens vir meer as 'n sekere bedrag bestel, is die posgeld in SA gratis en as jy nie die pakkie te swaar laai nie, mag jou familielid dit vir jou saambring as hulle kom kuier. Of voor jy in Suid-Afrika gaan kuier, laat lewer vir jou 'n Leserskring pakkie af by een van jou kuieradresse.
As jy boeke by Kalahari.net wil bestel, kan jy hierdie webwerf ondersteun deur op een van ons skakels na Kalahari.net te kliek. As jy dit doen, verdien ons 'n klein kommissie op die aankope vanaf Kalahari.net, wat help om ons koste te dra.
Baie van die verskillende Suid-Afrikaannse uitgewers se boeke word deur Kalahari.net verkoop en heelwat SA musiek en DVD's word ook deur kalahari.net verkoop.
(Ons het ook 'n skakel na die Nieu-Seelandse boekmaatskappy, Fishpond.co.nz op RainbowCooking.co.nz, ons koswebsite. Fishpond het ongelukkig nie Afrikaanse boeke nie maar hulle hou pragtige boeke aan - onder meer boeke van NZ oorsprong en internasionale boeke - soos ook Engelse boeke van Suid-Afrikaanse herkoms.)
Hoe bly mens op hoogte van die oulike nuwe Afrikaanse boeke, leesgoed en musiek wat beskikbaar is?
Uitgewers van Afrikaanse boeke:
Omdat ek 'n opgeleide biblioteekkundige is, verkies ek om eerder boeke van bekender uitgewers te kry as om vir die opsie te gaan van boeke wat self uitgegee is deur 'n individue wat 'n paar duisend kopiee van die boek laat druk het. Daarom is dit vir my interessant om self ook na die webbladsye te gaan van uitgewers soos www.lapa.co.za wat besit word deur die Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging en hulle gee slegs Afrikaanse boeke uit. Hulle het pragtige, eg-Afrikaanse boeke van oor die hele spektrum van kleuter-, kinder en tienerboeke, handwerkboeke, kookboeke, fiksie en romanza-klub. Hulle het 'n kwartaallikse katalogus wat hulle aan kliente uitstuur maar niemand is nie onder verpligting om iets te bestel nie
www.nb.co.za: NB-Uitgewers besit verskillende drukname onder meer - Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie en Pharos
www.cum.co.za: CUM (Christelike Uitgewers Maatskapy) het 'n baie groot en goeie versameling Christelike literatuur en voorsien dagstukkies, boeke vir kinders, Bybels en nog meer.
www.fantasi.co.za het heelwat Afrikaanse boekies vir kleingoed.
www.randomstruik.co.za: Random House Struik se boeke is ongelukkig meestal in Engels maar ek hou nogal van die verskeidenheid resepteboeke wat hulle uitgee. Omdat hulle aan 'n internasionale uitgewer-huis behoort, is van hul boeke by Fishpond in NZ beskikbaar.
www.kinderwerf.co.za: Kinderwerf het 'n leesklub waar hulle vir kinders oa deur die Loebie boekklub boekies deur die pos stuur. Ek sou dit nie aanbeveel vir buitelanders nie omdat internasionale pakkies se posgeld duur is. Maar daar is ander oulike goedjies wat elektronies gekoop kan word. Noem asseblief dat julle van kinderwerf gehoor het by ons Afrikaans in Christchurch webwerf.
Mens lees goeie Afrikaanse boekresensies raak op oa die volgende plekke:
In die Rooi Rose tydskrif is daar elke maand 'n gereelde boekrubriek wat deur Grafitti boekwinkel geskryf word waar daar oulike boeke in bespreek word. As jy in die Noorde van Pretoria woon, besoek gerus Grafitti boekwinkel in die Kollonade.
Op litnet.co.za word daar gereeld nuwe boeke en musiek geresenseer.
Interessante kinderboek resensies is beskikbaar by www.storiewerf.co.za.
Vir lede van www.leserskring.com word daar 'n kwartaallikse katalogus uitgestuur waarin boeke bekendgestel word. Leserskring verwag van hul lede om vir minstens 2 jaar 'n lid te wees en dan elke kwartaal 'n boek uit die katalogus te bestel. Omdat posgeld na NZ duur is, is dit vir ons makliker om eerder 'n groot bestelling in te sit by Kalahari.net (wat een van Leserkring se sustermaatskappy is) en die posgeld die moeite werd te maak.
Klank CD's met stories vir kinders en grootmense
Ons gesin het nogsteeds baie goeie gebruik van Storieman en Storiemuis - klank CD's met die boeke wat daarmee saamgaan sodat die kleinding in die boek die woorde kan volg wat hulle oor die storie CD hoor. Ons het dit destyds by Listener's Library aangekoop. Ongelukkig het IBIS pers nie weer kopiereg gekry om die boeke te herdruk nie en dit is 'n groot hartseer.
Listeners Library het egter baie mooi storie CD's. Die tak wat ons gebruik het (en wat wereldwyd kan pakkies stuur) is die tak by Alkantrant Biblioteek, hv Lynnwood en Daventryweg, Lynnwood Manor. Tel: (012) 348-2480 e-pos: pta@listenerslibrary.com
Die SAUK se "Business Development"- afdeling verkoop DVD's van hul mooi, ou televisie- programme soos Liewe Heksie, Heidi, Brakenjan, Trompie, Kooperasiestories, Manakwalanners, Meeulanders en meer. Kalahari.net verkoop baie van hierdie DVD's ook en dis dalk makliker om as dit by Kalahari.net beskikbaar is, dit eerder daar te koop saam met ander produkte. Die buitelandse posgeld op hierdie DVD's is nogal baie duur maar indien nodig, kontak SA Verspreiding, Posbus 91491, Auckland Park, 2006 content@sabc.co.za Telefoon: 011 714-8066
Tweedehandse boeke
Voordat jy boeke begin uitgooi uit jou boekrak, dink jy nie 'n vriend of vriendin is wat dit dalk graag sou kon benut nie. Boeke wat te klein geraak het vir jou kinders kan dalk uitgeleen of weggee word aan gesinne met kleiner kinders (mits hulle ouers hulle gaan help om dit te gebruik). Ek weet van Afrikaanse ouers wat verkies dat hul kinders nie aan Afrikaans blootgestel word nie en wat nie die boeke gaan gebruik nie maar dan weet ek van net soveel Afrikaanse ouers wat hul oogtande vir Afrikaanse boeke sal wil gee. As jy 'n passie het vir Afrikaanse boeke, maak seker dat jou vriende daarvan weet.
Jy is ook welkom om my te kontak. Ons het begin om 'n boeke ruilhoekie op hierdie webblad te begin waarin mense se wat hulle wil verkoop / weggee en ander mense kan se waarna hulle opsoek is. Julle kan dan met mekaar in kontak kom en self reelings maak met mekaar. Loer gerus gereeld in en bly op datum met wat daar aangaan. As boeke gepos moet word, is dit billik vir die ontvanger om minstens die posgeld te betaal
Dalk kan boeke tot die biblioteekversameling in die Christchurch biblioteek toegevoeg word. Die biblioteek het egter streng reels dat boeke tot die versameling toegevoeg word, bai nuut moet wees en in 'n goeie toestand moet wees. Die biblioteek het ook 'n rak waar mens boeke kan neersit sodat ou boeke vir 'n baie klein bedrag verkoop ten bate van die biblioteek.
Of dalk kan ons die boeke self gebruik - ongelukkig het ons te min spasie om alle boeke te aanvaar maar ons kry soms goeie huise vir van die boeke wat mense aan ons skenk. Mense kry dit gratis by ons as hulle dit by ons kom haal maar as ek boeke moet pos na ander NZ adresse word 'n posgeld en hanteringsfooi gehef.
Die ACK Christchurch is in die proses om 'n mediasentrum op die been te bring en sal graag Christelike boeke, gospel en ander Christelike CD's en DVD's in goeie toestand ontvang.
Safari Meats het op 'n stadium graag ou Afrikaanse tydskrifte ontvang wat mense dan by hulle kan uitruil.