Klassieke Kinderverse

Bekende gediggies deur bekende Afrikaanse digters.Liefde met gevoel

AG Visser

(vir 'n outjie wat lispel)

Waarom huil klein Sussie so?
Netnou het sy niks makeer nie.
Dis weer Boetie, kan jy glo -
maak hy haar nie altyd seer nie?

Waarlik, hy het haar gebyt:
kyk daar sit die merk, my lammie -
'n splinternuwe stoutigheid....
"Dis maar net van liefde, Mammie!"

Liefde? Dis 'n mooie grap!
Wat moet Mammie met jou doen
jy so so jou sussie hap?
"Slaan my, Mammie, maar eers soen!"

Maar eers soen! - Ek bid jou aan!
Se my nou: wie kan dan slaan?

'n Wiegeliedjie

CJ Langenhoven

Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie,
moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,
heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
"Doedoedoe bladertjie,
slapenstyd nadertjies;
doedoedoe blommetjies,
nag is aan't kommetjies."
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Bo in die bloue lug flikker die sterretjies -
hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
wakend oor mensies en diertjies en boompietjies.
"Wees maar gerustetjies,
slaap maar met lustetjies!"
So sing die sterretjies -
stilletjies, verretjies:
Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!

Onskuldige ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies,
ver deur die wereld se kronkels en gangetjies!
Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.
Bly maar by moedertjie,
kindlief se hoedertjie -
slaap in haar arrempies,
saggies en warrempies,
Doekies, dan, doekies in moeder se arrempies

Met 'n Mandjie Rose

AG Visser

Liefste Tannie, ons bring rosies,
rosies blink met moredou;
mooie kleurtjies, soete geurtjies,
en dit alles net vir jou!

Rosies fluister: "Liefde, soentjies"
in verbloemde blommetaal;
rosies wat ons uit ons tuintjie,
liefde uit ons hartjies haal.

Maar die soentjies... in geen mandjie,
nerens in wil dit geluk -
liefste Tannie, ons is raadop -
soentjies moet jy self maar pluk!

Gesigte trek

Helena F Lochner

My snaakse broertjie het so graag
skewe mond vir my getrek.
Hy steek sy tong uit, draai sy oe,
en ook sy nek word uitgerek!
"Hou op met skewe-mond trek.
'n Trein mag fluit, of 'n klok mag slaan."
Pas gese..... of dit gebeur,
Toe het sy mond so skeef bly staan.

Mamma

Alba Bouwer

Twee blommetjies vir Mamma
want sy kook my kos.
Nog twee blommetjies vir Mamma,
sy maak nare knope los.
Twee blommetjies vir Mamma
want sy sing vir my.
Nog twee blommetjies vir Mamma,
sy sit pleisters op 'n sny.
Twee blommetjies vir Mamma
want sy luister as ek kla.
Al die blommetjies vir Mamma.
Sy is die mooiste, beste Ma