Meer oor hierdie webwerf

Afrikaans in Chrsitchurch is 'n webblad deur Jaco en Marietjie Swart om die gebruik van Afrikaans in Christchurch te bevorder.

Toe ons dogtertjie 'n kleuter was, het ons  gereeld by  binneshuise-speelareas vir voorskolers bymekaar gekom.  Die idee was dat die kleingod in Afrikaans kon speel.  In realiteit het die kleingoed Afrikaans gepraat met die grootmense en Engels met hul maats maar darem het hulle gesien dat hulle nie die enigste kinders was, wat as huistaal Afrikaans gepraat het nie.  Ons het gewoonlik vir hulle 'n mooi Afrikaanse storie voorgelees en soms Afrikaanse kleuterstorieboeke tussen mekaar uitgeruil.  

In samewerking met die Afrikaanse Klub van New Zealand, was ons die Christchurch medewerkers vir 'n paar plaaslike Afrikaanse konserte.

Ons grootste droom het waar geword toe die Afrikaanse boekrak in die Christchurch biblioteek ingewy is, aangesien ons, ons daarvoor beywer het.  Lees meer oor die biblioteekprojek.  Ons is self groot gebruikers van die Afrikaanse versameling by Central Library in Gloucester Street en moedig nuwelinge en ou  inwoners aan om 'n draai te maak  en die versameling te benut.

Ons webbladsy is al 'n paar jaar aan die gang en trek nogal baie besoekers, so ons glo die inligting word gelees. Ons vra nie 'n fooi om inligting oor relevante funksies te lys nie. Tans is ons webbladsy hoofsaaklik 'n bulletinbord wat mense op hoogte hou van plaaslike Afrikaanse gebeure in die omgewing en ons hoop dat menses ons webblad gereeld sal besoek om op hoogte te bly van dinge wat hier gebeur.


Ons het vir jare 'n gratis besigheids-geelbladsye op ons webblad gehad maar dit afgehaal omdat Christchurch  deesdae twee  "business directories" het - een  deur  http://www.bluemarula.com en een wat deur http://www.sinzasa.org.nz in stand gehou word.

Ons koswebwerf, http://rainbowcooking.co.nz is in die proses om 'n geelbladsye te kry spesifiek oor Suid-Afrikaanse kos en waar om dit in New Zealand te kry.  Ons voorsien dat dit 'n gewilde "directory" gaan wees aangesien ons reeds op die oomblik al 'n baie groot getal besoekers het wat rainbowcooking.co.nz besoek.